Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 25 MAART 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

BESPREEK NOU VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE

LEER VAN PROGRAMMATUUR-GEDEFINIEERDE RADIO

U LISENSIEGELD IS NOU BETAALBAAR

BELANGRIKE LISENSIE-INLIGTING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BESPREEK NOU VIR DIE SARL NASIONALE KONVENSIE

Het u al bespreek vir die SARL Nasionale Konvensie? Indien nie, doen dit nou. Hier is ‘n paar van die hoogtepunte. Ontmoet die plaaslike amateurs op Vrydagaand. Sluit aan by ‘n geskiedkundige toer oor hoe Suid-Afrika se elektronika-nywerheid in Pinetown begin het en oor die ontwikkeling van enkelsyband in SA. Woon die SARL AJV by op Saterdagmôre en leer die middag van die bou van BHF- en UHF-antennes en van DX en ‘Logbook of the World’. By die aandete Saterdag word die toekennings uitgedeel en daar is ‘n rede deur dr. Andrew Collier van SANSA Space Sciences. Sondagoggend word die verrigtinge afgerond deur ‘n ontspanne ontbyt in die Japannese tuin. Volle besonderhede en registrasievorms is beskikbaar op www.sarl.org.za. U gasheer by die konvensie is die komitee en lede van die Highway Amateur Radio Club.

SARL AJV-DOKUMENTASIE

Die SARL AJV-dokumentasie is nou op www.sarl.org.za beskikbaar. Die dokumente is ook gepos aan lede vir wie die SARL geen e-posadres het nie. Lede met e-posadresse ontvang ‘n e-pos met ‘n skakel na die dokumente. Die SARL het ‘n hele paar onaflewerbare boodskappe terug ontvang. Indien u nie ‘n e-pos i.v.m. die AJV ontvang het nie, opdateer asseblief u rekord by die SARL deur u naam, roepsein, volle posadres en e-posadres te stuur aan admin@sarl.org.za.

LEER VAN PROGRAMMATUUR-GEDEFINIEERDE RADIO

Leer omtrent programmatuur-gedefinieerde radio met behulp van die boek ‘The ABC of Software Defined Radio’ wat pas deur die ARRL uitgegee is. Hierdie boek van 69 bladsye is ‘n inleiding tot programmatuur-gedefinieerde radio (SDR) en digitale seinverwerkings-tegnologie. Met ‘n gemaklike styl, bied die boek ‘n regstreekse kyk in die tegnologie en lê die fondament vir diegene wat die onderwerp op ‘n meer fundamentele vlak wil verstaan. Met die lees sal u ontdek wat die basiese beginsels van SDR is, wat die voordele van die tegnologie is en hoe dit in amateurradio aangewend kan word – en dit alles met ‘n minimum van wiskunde. Die boek is beskikbaar by die SA Amateur Ontwikkelingstrust. Besoek www.amateurradio.org.za and kies u boeke op die tuisblad.

Van boeke gepraat, die 2012 ARRL-handboek en die ‘Antenna Book’ is steeds beskikbaar op posbestelling. Albei boeke is hardedband-uitgawes. Nog ‘n nuwe boek beskikbaar op die webwerf is ‘Basic Radio – Understanding the Key Building Blocks’. Dit is die ideale boek vir die RAE-student wat meer wil weet van ontvangers, senders en antennes.

U LISENSIEGELD IS NOU BETAALBAAR

OKOSA het begin om lisensieaanslae te pos. The lisensiegelde van R120 word op 1 April 2012 betaalbaar. U kan ook vir vyf jaar hernu teen ‘n verminderde bedrag van R501. Die SARL beveel aan dat, sou u nie ‘n hernuwingskennisgewing ontvang nie, u die lisensiegeld betaal teen die lisensienommer op verlede jaar se aanslag en u roepsein. Pos ook die betalingsbewys en u adres aan KMashile@icasa.org.za. Dit is vir alle betalings aan OKOSA noodsaaklik dat u roepsein as ‘n betalingsverwysing gebruik word. Onthou ook om enige posadres- of e-posadresveranderings aan admin@sarl.org.za te stuur.

BELANGRIKE LISENSIE-INLIGTING

Ongeveer 1 700 roepseine is deur OKOSA as “verval” gemerk. Dit is as gevolg van 'n skoonmaakproses wat OKOSA gedurende verlede jaar onderneem het. Daar is 'n aansienlike aantal roepseine wat “verval” het, maar baie amateurs het partykeer ondeurdag toegelaat dat hulle roepseine verval. U mag ook geaffekteer wees. As 'n voorbeeld is daar 43 opbetaalde SARL-lede wat nie meer oor geldige lisensies beskik nie.

Vir meer inligting word u aangemoedig om www.sarl.org.za te besoek waar meer inligting beskikbaar is en waar u kan uitvind wat om te doen.

RTA DATUMS VIR 2012 AANGEKONDIG
Die datums vir die SARL se Radiotegnologie in Aksie simposiums is bekend gemaak. Vanjaar se RTA-programme sal van ‘n meer praktiese aard wees en is daarop gemik om u amateurradio-ervaring te verbeter. Die program sal binne die volgende twee weke voltooi word, wat u nog die geleentheid bied om u onderwerp- en sprekervoorstelle in te stuur. Het u dit al oorweeg om ‘n spreker op ‘n RTA te wees? Stuur u voorstelle aan rta@sarl.org.za.

Die 2012 RTA-datums is: 21 Julie, Durban; 18 Augustus, Kaapstad; 1 September, Port Elizabeth; and 29 September, Gauteng.

FREKWENSIEVERANDERING VIR AMATEUR RADIO TODAY

Vanaf Maandag (môre) sal die uitsaaifrekwensie vir Amateur Radio Today verander. Die 19:30 SAT uitsending sal op 3 230 kHz uitgesaai word. U word uitgenooi om ontvangsverslae te stuur aan artoday@sarl.org.za.
Die Sondaguitsending om 10:00 SAT sal op 17 570 en 7 205 kHz plaasvind

‘ICE GOAT 1’ APRS-BOEI TER SEE AAN DIE KUS VAN ALASKA

‘n Groep oseanografie- and lugvaartkunde-studente van die ‘US Naval Academy’ het ‘n seeboei wat met radio toegerus is, losgelaat om weerstoestande in die strawwe arktiese toestande te monitor. Die boei word ‘Ice Goat 1’ genoem en is geplaas aan die kus van Point Barrow, Alaska. Die boei sal sy seereis begin sodra die winterys daar smelt.

Behalwe die wetenskaplike monitortoerusting dra die boei ook ‘n APRS-baken wat op 145,825 MHz uitsaai. Die posisiepakette kan herlei word deur die digiherhaler van die Internasionale Ruimtestasie.

LONDONSE OLIMPIESE HERDENKINGSTASIES AANGEKONDIG

Verskeie spesiale geleentheid-roepseine sal geaktiveer word om die Olimpiese en Paralimpiese spele te vier. Die Londense stasie, 2012L, sal aktief wees vir die duur van die spele. Dit is geleë in die historiese Eltham Paleis in suid-oos Londen and sal op alle modusse werk op bande van 160 m tot 2 m. Meer inligting is beskikbaar op die web by www.2O12L.com.

Die Walliese stasie 2O12W sal werk op alle bande van 160 m tot 23 cm en alle modusse insluitende SATV en satelliete. Dit is geleë te Whitmore Baai op Barry Eiland. Meer inligting op die web by www.2O12W.com.

2O12L en 2O12W sal op 27 Julie op die lug kom. Die RSGB is die gebruik van die ‘Inspire’ handelsmerk vir hierdie stasies toegestaan. Spesiale QSL-kaarte sal beskikbaar wees vir alle stasies waarmee kontak gemaak is.

WEDSTRYDNUUS

SARL 80 meter Klubkompetisie, Foon

Die tweede kompetisie in die reeks sal op Woensdag 28 Maart plaasvind. Dit begin om 17:30 UTC and eindig om 18:30 UTC met foonaktiwiteit tussen 3 603 en 3 650 kHz en tussen 3700 and 3 775 kHz. Enkeloperateur- of multi-operateurstasies kan deelneem. ‘n RS.-verslag en ‘n volgnommer wat by 001 begin word uitgeruil. Een punt per kontak word toegeken en loginskrywings moet aan zs4bfn@netactive.co.za voorgelê word by middernag op Woensdag 4 April.

KOMPETISIES IN April

In April sal drie plaaslike kompetisies gehou word. Besonderhede verskyn in die dagboek van gebeure.

SARL-KANTOOR GESLUIT

Onthou, die SARL se kantoor sal gedurende Maart gesluit wees. Mariska Faasen is met vakansie op besoek aan familie oorsee. Tussen Henry Chamberlain en Francois Botha sal hulle aan e-pos en telefoonboodskappe aandag skenk. Stuur asb. e-pos aan die gewone adres nl. admin@sarl.org.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit aan die afneem is noudat reuse sonvlek 1 429 weg van die aarde af geroteer het. Dit was pret terwyl dit aan die gang was!

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 57.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met die moontlikheid van sporadiese 6 m openinge.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Maart – Tweede been van SARL 80 meter Klubkompetisie, Foon , 17:30-18:30 UTC.
4 April – Logstate vir die SARL 80 meter Klubkompetisie, Foon moet voor middernag by zs4bfn@netactive.co.za in wees.
5 April - SARL 80 m QSO-partytjie 17:00 tot 20:00 UTC.
6-9 April - Western Cape Antique Wireless Association Ekspo naby Stanford, skakel met John, ZS1WJ, op 082 673 5337 vir meer inligting.
7 April - Herfs RaDAR kompetisie 12:00 tot 18:00 UTC.
14 April - Herfs QRP Naelloop 12:00 tot 15:00 UTC.
20 - 22 April SARL Konvensie in Pinetown.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Fritz ZS6SF.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003